Leer my ken
Hallo, ek is Leoné.
Ma, tuiskok en jou nuwe gunsteling-kombuisvriendin.
Leer my ken
Ma, tuiskok en jou nuwe gunsteling-kombuisvriendin.
My storie
My lewensverhaal
My liefde vir kosmaak het al van kleins af begin. Ek het in Empangeni grootgeword, waar my passie vir kosmaak en bak mettertyd deel geword het van wie ek vandag is.
Ek was altyd iemand wat daarvan gehou het om nuwe dinge in die kombuis te probeer. Selfs wanneer ek eintlik vir my eksamens moes leer, het ek soms ’n bietjie geprocrastinate deur myself met ’n nuwe koekresep of ’n interessante dis uit te daag. Wat dalk soos uitstelwerk gelyk het, was eintlik die begin van ’n groot liefde wat oor die jare net sterker geword het!
Vir my is kook en bak soveel meer as net bestanddele meng en kos op die tafel sit. Dit is terapeuties, dit bring vir my vreugde en dit gee my die geleentheid om my kreatiwiteit uit te leef. Daar is iets besonders daaraan om met liefde iets te maak wat ander mense kan geniet - of dit nou ’n tuisgebakte koek, ’n bord trooskos of ’n nuwe resep is wat ek met opgewondenheid wil deel.
Vandag is kosmaak steeds een van die dinge wat my die gelukkigste maak. Dit is ’n deel van my storie, my passie en die manier waarop ek my liefde vir mense wys. Ek glo dat die lekkerste kos nie net met goeie bestanddele gemaak word nie, maar ook met ’n groot skeut liefde.
In 2025 het ek en my pa vir Kokkedoor Son en see ingeskryf en die finaal gehaal en tweede gekom.
Ons het ons passie vir kosmaak saam met mekaar gedeel en uitgeleef tydens die kompetisie en dit het my herinner dat kos nie net gaan oor die bord wat jy daar neersit voor mense nie,maar die stories wat met elke resep gaan.
Hierdie webtuiste is ’n stukkie van my wêreld wat ek graag met jou wil deel - my resepte, my kombuisavonture en die liefde waarmee ek elke gereg aanpak. Ek hoop om jou te inspireer om self die kombuis in te spring, nuwe dinge te probeer en jou eie kosbare herinneringe om die etenstafel te skep.
'n Goeie ete hoef nie ingewikkeld te wees nie.
Daar is altyd plek vir nog een bord.
Elke gereg dra iemand se storie.
Baie dankie dat jy hier is. Of jy die boek gekoop het, een resep probeer het of net ingeloer het om hallo te sê, jy is nou deel van hierdie storie. Ek kan nie wag om te sien wat jy kook nie.
Met liefde,
Leoné